Document>

Spesisisme, Antroposentrisme en die Gebruik van die Holocaust-Metafoor in Dierebevrydingsdiskoers: 'n Reg-en-Letterkunde-Perspektief

J-H de Villiers*

PER/PELJ - Pioneer in peer-reviewed, open access online law publications

Author Jan-Harm de Villiers

Affiliation University of South Africa, South Africa

Email dvillj@unisa.ac.za

Date Submitted 17 July 2024

Date Revised 25 November 2024

Date Accepted 25 November 2024

Date Published 7 April 2025

Editor Prof Germarié Viljoen

Journal Editor Prof Wian Erlank

How to cite this contribution

De Villiers J-H “Spesisisme, Antroposentrisme en die Gebruik van die Holocaust-Metafoor in Dierebevrydingsdiskoers: 'n Reg-en-Letterkunde-Perspektief" PER / PELJ 2025(28) - DOI http://dx.doi.org/10.17159/1727-3781/2025/v28i0a19187

Copyright

DOI http://dx.doi.org/10.17159/1727-3781/2025/v28i0a19187

Abstract

In this article I illustrate the challenges accompanying the

Keywords

Animal ethics; animal liberation discourse; anthropocentrism; Holocaust metaphor; JM Coetzee; law and literature; Mikhail Bakhtin; speciesism.

……………………………………………………….

1 Inleiding

Hierdie artikel ondersoek die waarde van die Holocaust-metafoor in letterkunde vir dierebevrydingsdiskoers ("animal liberation discourse"). Ek benader weereens 1

 Jan-Harm de Villiers. BCom (cum laude), LLB (cum laude), LLM (cum laude) (Pretoria), PhD (Leiden). Medeprofessor, Fakulteit Regsgeleerdheid, Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). E-pos: dvillj@unisa.ac.za. ORCID: https://orcid.org/0000-0002-4033-3884. Hierdie artikel is gedeeltelik gebaseer op navorsing wat onderneem is vir my doktorale proefskrif Anthropomorphic Hegemony of Subjectivity.

1 Hierdie artikel steun op die benadering wat ek in De Villiers 2019 Law & Literature geformuleer het.

die verhouding tussen die reg en letterkunde aan die hand van die Russiese literêre teoretikus Mikhail Bakhtin se werk oor die polifoniese roman en interpreteer onder meer die literêre stem van JM Coetzee se protagonis Elizabeth Costello in The Lives of Animals. My doel is om te illustreer dat die Holocaust-metafoor in letterkunde die potensiaal het om 'n meer gesofistikeerde verstaan van die huidige antroposentriese bestel te fasiliteer en 'n kritiese ruimte kan skep waarbinne alternatiewe vorme van weerstand tot sodanige orde gekonseptualiseer (en uiteindelik geïmplementeer) kan word. Die Holocaust-metafoor beklemtoon dat daar wesenlike verbande is tussen die geweld wat op beide diere en mense gerig word en hierdie verbande maak dit moontlik om interseksionaliteit te verstaan en te benader op wyses wat die grense van intramenslike ongeregtigheid oorskry.

Een van die mees volgehoue en betekenisvolle intellektuele projekte van ons tyd is gemoeid met die mens-dier-onderskeid, of, om meer presies te wees, die radikale destabilisering en verplasing daarvan. Navorsing in verskeie vakdissiplines het bevind dat dierespesies wel vermoëns en eienskappe beliggaam wat eens voorgehou is as essensieel en eksklusief tot die mens. Sodanige navorsing het die skeiding, wat ons as mense so nougeset gekonstrueer het om onsself in teenstryd met die diereryk te onderskei en af te baken, stelselmatig geërodeer. Verskeie omvangryke studies openbaar gevorderde kognitiewe verskynsels wat deur diere demonstreer word, insluitende die vermoë om gereedskap te gebruik, kousale hipoteses uit spesifieke gebeurtenisse te genereer, die ervaringsperspektiewe van ander te internaliseer, en ruimtelike kompleksiteite te onderhandel. 2

2 Nussbaum "The Capabilities Approach" 231-234.

Diere-etici en -filosowe het hierdie sogenaamde erodering gebruik as basis vir 'n belanggebaseerde etiek wat gefundeer is in 'n ontologie van geleidelike biologiese kontinuïsme wat mense en diere as gelyke deelnemers in die evolusionêre proses sien; onderskeid tussen die twee entiteite word gekonseptualiseer in terme van graad eerder as soort. Hierdie teoretici argumenteer dat die etiese

implikasie van sodanige kontinuïteit met betrekking tot eties relevante vermoëns erkenning vereis van die beginsel dat soortgelyke belange gelyke etiese oorweging regverdig. Volgens hierdie beginsel moet alle individue se ooreenstemmende belange (soos die belang om nie gemartel of fisies ingeperk te word nie) gelyke etiese oorweging geniet, ongeag wie of wat die individu is. Vanuit hierdie perspektief lei die arbitrêre verontagsaming van diere se belange op grond van hul lidmaatskap tot 'n spesifieke spesie (spesisisme) tot 'n onregverdigbare vooroordeel op dieselfde wyse as wat die arbitrêre minagting van mense se belange op grond van eties irrelevante eienskappe soos ras of geslag (rassisme of seksisme) ongeregverdigde diskriminasie daarstel. Die term "spesisisme" (speciesism) word veral geassosieer met die utilitaristiese denker en bio-etikus Peter Singer, wat spesisisme, rassisme en seksisme voorhou as paradigmaties parallelle vorme van die selfdienende en ongeregverdigbare ontkenning van die belange van ander. 3

3 Singer Animal Liberation 9.

Ek vind hierdie dominante benadering tot diere-etiek om verskeie redes teoreties en eties problematies. Die klem op spesisisme as irrasionele of strydige etiese gedrag wat primêr hanteer en reggestel kan word deur logiese beredenering, slaag nie daarin om die kompleksiteit van die pertinente kwessies wat ter sake is in die onderdrukking van diere te identifiseer en te hanteer nie. Die onderworpe status van diere is nie primêr verklaarbaar in terme van irrasionele oortuigings en gebruike nie, maar eerder die gevolg van komplekse skemata van mag en dominasie wat strek oor verskeie historiese, institusionele en kulturele diskoerse en praktyke. Soos wat party filosowe 4

4 Sien Derrida The Animal that Therefore I Am.

argumenteer, is ons onderdrukkende sin van meerderwaardigheid teenoor diere intrinsiek verbind tot ons historisiteit en sosialiteit en dien sodanige meerderwaardigheidsin fundamenteel om ons menswees te konstitueer. 'n Destabilisering van hierdie komplekse onderdrukkende skema vereis fundamentele verskuiwings oor verskeie diskoerse en instellings heen, en noodsaak dienooreenkomstig 'n nougesette dekonstruksie van die sosiohistoriese prosesse, verhoudings en voorwaardes wat aan ons identiteit gestalte gee. In die geskiedenis van Westerse kultuur is magsverhoudings uiters selde op grond van die biologiese spesie op sigself gevorm en is, inteendeel, deurgaans groot gedeeltes van die mensdom onderdruk. 5

5 Calarco Thinking Through Animals 26.

Dominante perspektiewe op etiek en gemeenskap het ontwikkel in verhouding tot vermoëns en eienskappe wat as wesenlik menslik geag word, en voortspruitende hegemonie het altyd ten koste van groot subgroepe van beide mense en diere geheers. Die dominante benadering tot diere-etiek wat poog om hierdie vermoëns en eienskappe in diere te vind ten einde 'n grondslag vir egalitêre etiek te lê,

lei egter nie tot 'n verplasing of destabilisering van die mens se veronderstelde uitsonderlikheid nie. Veel eerder versterk dit ons posisie as patriargale middelpunt van wesens, bestendig dit die antroposentriese stelsel wat daarin faal om die etiese roep van die dier te (h)erken, en bewerkstellig dit 'n problematiese neutralisering of radering van dierlikheid. Tot die mate waartoe dierebevrydingsdiskoers steeds grotendeels gevorm word deur hierdie kontoer van die mens as verwysingspunt en grondsimboliek aan die hand waarvan etiese agentskap en oorweging geskenk word, ondersteun ek die standpunt dat die kritiese teiken vir diere-etici eerder antroposentrisme moet wees, oftewel "die stel verhoudings en sisteme van mag in diens van diegene wat deur die dominante kultuur geag word volkome en behoorlik mens te wees". 6

6 Calarco Thinking Through Animals 25, eie vertaling.

'n Sentrale gemoeidheid met antroposentriese mensgerigtheid laat ons nie slegs toe om wat ek beskou as die sentripetale krag verantwoordelik vir die genuanseerde problematiek van diere-onderdrukking te hanteer nie, maar laat ons ook toe om die implisiete antroposentriese beperkings van sekere diskoerse en instellings te verstaan en te identifiseer. Hierdie artikel fokus juis op die rol van die reg as fasiliteerder van 'n antroposentriese kultuur en orde en die wyse waarop letterkunde die (outoriteit van die) reg kan ondermyn en destabiliseer, terwyl dit tegelykertyd omgang met die stem(loosheid) van die dier op so 'n wyse fasiliteer dat die fundamentele antroposentriese beperkings van die reg ontbloot en omseil word.

2 Problematiek rondom die gebruik van die reg vir dierebevryding

Alhoewel ek elders 7

7 De Villiers 2018 PELJ.

reeds uitgebreide kritiek op die gebruik van die reg vir dierebevryding geartikuleer het, is dit nodig om sommige van die kernpunte hier te herhaal om die voortspruitende bespreking en gevolgtrekkings te fasiliteer en kontekstualiseer. Ten einde die reg te gebruik vir die bevordering van diere se belange, moet prodiereteoretici hul etiese argumente konstrueer in terme, veronderstellings en kategoriserings wat die reg kan verteer en metaboliseer. Die subjekgesentreerde model van die reg en die konstruk van (diere)regte, wat tans die mees progressiewe gebruik van die reg vir die bevordering van diere se belange daarstel, 8

8 Sien De Villiers 2015 SAPL vir 'n uitgebreide uiteensetting van die teoretiese begronding, emansiperende vermoëns en tekortkomings van diereregte en dierewelsynsteorie.

is egter gefundeer in 'n antroposentriese metafisika van subjektiwiteit wat progressief in stryd met dierlikheid gekonstrueer is.

Regtens gekonkretiseerde regte staan in 'n onlosmaaklike verbintenis met die metafisika van subjektiwiteit in beide kronologie en konseptuele

komplementariteit. Costas Douzinas 9

9 Douzinas The End of Human Rights 241, eie vertaling.

beskryf regte as die "juridiese bekragtiging" van die metafisika van subjektiwiteit. Die ontologie van regte spruit inderdaad voort uit 'n unieke perspektief op die subjek en natuur wat die mens bo die natuur verhef en die subjek konseptualiseer as geïsoleerde monade met 'n eiesoortige bewustheid wat sonder enige beperkings sy lewe kan vorm en gestalte daaraan kan gee. 10

10 Douzinas The End of Human Rights 240.

Die konseptuele onderskraging van metafisika vind sy oorsprong in antieke Griekeland en is gegrond in die siening dat die sintuiglike wêreld bloot 'n eksterne verskynsel is terwyl die "ware" wêreld slegs deur die brein (en filosofiese denke) bereik kan word. Die ommekeer tussen die waarneembare en verstaanbare word vervolmaak met Plato se grotanalogie: die fenomenele wêreld wat as skaduwees teen die muur van die grot voorgestel word terwyl die ware realiteit deur die sonbeligte wêreld van idees en vorme voorgestel word. 11

11 Douzinas The End of Human Rights 202.

Soos wat Martin Heidegger 12

12 Heidegger "Plato's Doctrine of Truth" 181.

korrek waarneem, val die oorsprong van metafisika saam met die opkoms van 'n humanisme waarin die mens 'n sentrale plek tussen alle wesens inneem. Volgens Heidegger 13

13 Heidegger "Plato's Doctrine of Truth" 181, eie vertaling.

het Plato 'n "verandering wat die geskiedenis van metafisika sou word" ingewy deur die essensie van waarheid te verskuif en te hervestig. Terwyl waarheid voorheen verstaan is as die onverborgenheid van wesens, het Plato sodanige onverborgenheid vasgevang in verhouding tot "waarneming, begrip, denke en bewerings" en die konsep sodoende verskuif na 'n ander register waarin dit hervestig is in die sogenaamde korrekte uitbeelding van "objekte" deur menslike "subjekte". 14

14 Heidegger "Plato's Doctrine of Truth" 181, eie vertaling.

Hierdie konsep van waarheid bereik sy apeks in Descartes se soeke na 'n fundamentum absolutum inconcussum veritatis ('n absolute, onwrikbare fondasie van waarheid), wat hy vind in die selfbewussyn en selfteenwoordigheid van die menslike subjek. 15

15 Calarco 2004 Cont Philos Rev 178.

"Mens" verwys hier natuurlik nie na die hele mensdom nie, maar sluit inteendeel groot subseksies uit, mees prominent vroue en kinders. My primêre doel met hierdie artikel is egter nie om te fokus op die uitsluitingslogika van die metafisika van subjektiwiteit met betrekking tot sekere mense nie, maar eerder om die belang wat dierlikheid gespeel het in die metafisiese tradisie te ondersoek en die relasionaliteit van dierlikheid en subjektiwiteit te analiseer. Wanneer ons die konstitutiewe funksionering van die mens-dier-onderskeid in verhouding tot die konstruk van subjektiwiteit dekonstrueer, kan ons begin om die negatiewe implikasies van benaderings wat poog om diere tot die bestaande model van

subjektiwiteit te assimileer, krities te beskou. Dierlikheid was deurgaans as gebrekkige bestaansvorm tydens die ontwikkeling van klassieke Westerse metafisika met menslikheid gejukstaponeer. Sodoende is die mensdom of die wese van die mens deur middel van kontrastering en vergelyking fundamenteel afgebaken as iets wesenlik verskillend en bo blote dierlikheid verhewe. Die ontwikkeling en bestendiging van die mens-dier-onderskeid het funksioneer as analitiese raamwerk waarbinne die mens afbakenend in stryd met diersoorte gedefinieer is. Die dier (en dierlikheid) is naas die mens gestel as ʼn sogenaamde tekortkoming ten opsigte van sekere vermoëns en eienskappe wat as eie aan die mens geag is. Mens-dier-verskille is dienooreenkomstig gekonseptualiseer as 'n teenstrydigheid gegrond in onvermoë en die opposisiegrens funksioneer as argitek van die mens se gewaande oppergesag. Soos wat die filosoof Jacques Derrida 16

16 Derrida Positions 41, eie vertaling.

omvattend geïllustreer het, konfronteer klassieke filosofiese opposisies ons nie met die vreedsame naasbestaan van 'n vis-á-vis nie, maar eerder met 'n gewelddadige hiërargie: "Een van die twee terme beheer die ander (aksiologies, logies, ens.), of het die oorhand." Die metafisiese funksionering van dierlikheid in die historisiteit van die mens se subjekwording gee gestalte aan waarna Derrida 17

17 Derrida Positions 41, eie vertaling.

verwys as 'n "strydige en onderdrukkende struktuur". Die konstruk van subjektiwiteit bly behoue aan hierdie struktuur en ek verwys na hierdie verskynsel as die antropomorfiese hegemonie van subjektiwiteit. 18

18 De Villiers Anthropomorphic Hegemony of Subjectivity.

Die konsep van antropomorfiese hegemonie van subjektiwiteit het ten doel om klem te lê op die stilswyende antroposentriese kontoere van die konstruk van subjektiwiteit wat 'n bepaling van diere se bestaan en morele of etiese waarde aan die hand van 'n standaard van menslikheid rig. Soos ek reeds beklemtoon het, is 'n aansienlike hoeveelheid intellektuele arbeid oor die laaste etlike dekades gerig op die erodering en verplasing van die poreuse mens-dier onderskeid wat ons arbitrêr gekonstrueer het om ons veronderstelde uitsonderlikheid af te baken. Teoretici het hierdie erodering en verplasing oorwegend gebruik as die grondslag vir normatiewe raamwerke waarbinne gedeelde interspesie-identiteite en -subjektiwiteite ontbloot word. Die problematiek met hierdie benadering lê egter fundamenteel in die rigting waarin teoretici interspesiekontinuïteit gesoek en gekonseptualiseer het. Hierdie teoretici steun op mensgesentreerde morele raamwerke wat, ten spyte van hul ooglopende doelwit, gebruik word om te argumenteer dat sodanige raamwerke logieserwys uitgebrei moet word om diere te akkommodeer. Sodoende word kontinuïteitstesisse gegrond in die idee dat diere sekere menslike vermoëns en eienskappe

besit. 19

19 Calarco Thinking Through Animals 49.

Die fokus is derhalwe daarop gerig om te (be)wys dat diere soos mense is en dat logiese beredenering dikteer dat diere gelyke morele oorweging en regsbeskerming verdien. My fundamentele kritiek is gerig op die onbedoelde, dog voorsienbare gevolge van so ʼn eenrigting invalshoek wat deur die konstruk van subjektiwiteit dikteer word. Waarom moet ons demonstreer dat diere soos mense kan dink, ly en optree voordat ons hul morele waarde erken en regsbeskerming aan hul verleen? Meer fundamenteel: Wat is die gevolg van die gebruik van hierdie antroposentriese konstruksie in diens van dierebevryding? Ons het tans, meer as ooit tevore, ʼn baie beter wetenskaplike begrip van en waardering vir die gevorderde kognitiewe vermoëns wat deur diere beliggaam word, sowel as die komplekse wyses waarop hul selfbewustheid manifesteer en juis daarom rus die onus op ons om diere as selfstandige entiteite te beskou wat derhalwe ook ʼn reg op bevryding en beskerming behoort te geniet.

Soos wat ek elders 20

20 De Villiers 2012 SAPL.

geargumenteer het, manifesteer die gelyksoortigheidsbeginsel wat voortspruit uit die metafisika van subjektiwiteit in 'n dualistiese hiërargiese ordening. Dit manifesteer eerstens in 'n mens-dier-interspesiehiërargie wat die mens aan hoof van 'n morele rangorde plaas en alle ander diere ondergeskik posisioneer. Voorts manifesteer dit in 'n niemenslike intraspesiehiërargie tussen ander diere wat volgens hul waargenome nabyheid tot menslikheid gerangskik word. My primêre bekommernis is dat die benadering wat mense as die middelpunt van morele of etiese refleksie posisioneer en oorweging uitwaarts rig, onvermydelik lei tot 'n bestendiging van die diskoerse en instansies wat in die eerste plek aanleiding gegee het tot die ondergeskikstelling van diere. Die gevolge van ʼn antropomorfiese hegemonie van subjektiwiteit word duidelik geïllustreer deur die mindere mate waartoe diereregte gerealiseer het. Tot op hede is diereregte slegs deur 'n paar jurisdiksies aan sekere primate, ons naaste niemenslike nabestaandes, toegeken. 21

21 Beauchamp "Rights Theory and Animal Rights" 214.

Die reg (en die diskoers van regte) bestendig derhalwe die mens as patriargale middelpunt van wesens en legitimeer die onderliggende antroposentriese sisteme van kennis en mag. My argument is weereens dat die kritiese teiken vir prodiere teoretici derhalwe antroposentrisme moet wees sodat ons die inherente beperkings en gevare van sekere diskoerse en instansies kan identifiseer ten einde alternatiewe diskoerse en instansies daar te stel. Teen hierdie agtergrond identifiseer ek die reg en die diskoers van diereregte as terreine van antroposentriese onderdrukking wat die ondergeskikstelling van diere fasiliteer en bestendig, eerder as om 'n onproblematiese middel tot dierebevryding te wees. Net soos Derrida, 22

22 Derrida en Roudinesco For What Tomorrow 65.

ag ek die huidige konstruksies

van diereregte as 'n "rampspoedige teenstrydigheid" wat bloot 'n antroposentriese modus van sosiale regulering bestendig. Ek maan gevolglik teen 'n verromantiseerde en onnadenkende teruggryp na die reg asof dit die sleutel tot dierebevryding is en pleit vir 'n kritiese omgang met die reg op 'n konseptuele vlak. Die kapasiteit van letterkunde om die (outoriteit van die) reg te ondermyn en te destabiliseer staan derhalwe sentraal in hierdie artikel.

3 Bakhtin en die reg-en-letterkunde-interaksie

Desmond Manderson 23

23 Manderson 2011 AFLJ 107.

meen dat die sogenaamde reg-en-letterkunde-beweging aan twee onheilspellende swakhede ly: eerstens 'n beheptheid met substansie en plot(verloop) en tweedens 'n misplaaste geloof in die vermoë van letterkunde om die reg te herstel of geregtigheid te vervolmaak. Die gevolg is dat ons in die inisiasie van letterkundige diskoers met die reg daarin faal om die werklike ervaring of waarde van letterkunde vas te vang – 'n waarde wat nie gereduseer kan word tot die moraliteit 'waarvoor dit staan' of die koherensie of harmonie wat dit beloof nie. 24

24 Manderson 2011 AFLJ 107.

Modernisme, en spesifiek die werk van Bakhtin, dui op 'n heel ander oriëntasie en verdediging van die reg-en-letterkunde-verbintenis.

Bakhtin ontwikkel in sy werk 'n unieke teoretiese woordeskat waardeur hy deur middel van literêre analise illustreer hoe die struktuur van die roman veelvuldige lae van betekenis en sienings fasiliteer en inherent toegewyd is aan 'n formele en linguistiese onsekerheid of onbepaalbaarheid. Die fokus is eindelik op die krag van letterkunde as 'n kollektiewe menslike aktiwiteit wat, soos ek voortaan sal argumenteer, ook die stem van die dier akkommodeer. Manderson 25

25 Manderson 2016 LCH 224.

identifiseer die mees prominente Bakhtiniaanse temas (vir die reg-en-letterkunde-interaksie) as die dialogiese eienskap van die roman, die toewyding tot eiesoortigheid en konteks, die omvattende kritiek van gesag en, oorkoepelend tot al hierdie eienskappe, die belangrikheid van vorm en styl vir ons begrip en ervaring van letterkunde. Hierdie temas verskuif die fokus op die onderwerp of inhoud van 'n spesifieke literêre werk na die werk se historiese trajek, kenmerkende eienskappe, en benadering tot taal. Bakhtin ag "stories" nie as die verwesenliking van enkelvoudige perspektiewe nie, en "die dialogiese" verwys ook nie na die verhouding tussen stem(me) in die bladsye van 'n roman en die sosiale of regsrealiteit waarop dit kommentaar lewer nie. Vir Bakhtin verwys die dialogiese na die gebruik van taal binne en tussen die karakters van 'n roman. Die heteroglossie, "waarvolgens die wêreld gesien word as 'n wemelende verskeidenheid diskoerse waaruit die

sprekende subjek moet kies", 26

26 Viljoen 1993 JLS 183.

word nie gesien as 'n sekondêre element van die normatiefgedrewe verhaal nie, maar eerder as 'n strukturele en stilistiese eienskap van die roman. 27

27 Manderson 2016 LCH 224-225.

Bakhtin onderskei die roman duidelik van vroeëre literêre vorme soos die heldedig en digkuns in die algemeen. Hy kontrasteer die genres primêr aan die hand van hul temporale oriëntasie. Die heldedig speel af in 'n mitiese verlede waarin gebeurtenisse en betekenisse vasgevang en bepaal(d) is. In teenstelling hiermee speel die roman af in 'n histories teenwoordige tyd en betrek 'n wêreld van onsekerheid, wording en veranderlikheid. Hetsy gesetel in die verlede, hede of toekoms van die outeur of leser, ontvou die roman soos wat ons dit lees in 'n konteks waarin belang en waardebepaling nie afgehandel is nie. 28

28 Manderson 2016 LCH 225.

Die roman verskyn in 'n "sone van nabyheid en kontak", 29

29 Bakhtin "Epic and Novel" 32, eie vertaling.

dit bly gefragmenteerd en onvolledig. Uiteindelik kruis die wêreld van die teks en die teks van die wêreld en konfronteer mekaar. Dit is die punt wat Bakhtin wil beklemtoon wanneer hy, by wyse van kontrastering, illustreer hoe die heldedig heeltemal geïsoleer is van "persoonlike ervaring, van enige nuwe insigte, van enige persoonlike inisiatief in begrip en interpretasie, van nuwe standpunte". 30

30 Bakhtin "Epic and Novel" 17, eie vertaling.

Bakhtin illustreer ook hoe die onderskeid tussen die heldedig en roman gekenmerk word deur verskillende benaderings tot taal. Bakhtin ondersoek, binne die romantradisie, die historiese opkoms en ontwikkeling van wat hy op verskillende tye "polifonie", "poliglossie" of "dubbelheid" (doubleness) noem. Bakhtin se argument is dat die roman nie benader kan word as die manifestasie van 'n spesifieke proposisie nie. Die ideale heldedig, en selfs die ideale gedig, besit ʼn gesaghebbende (stem)toon in die vorm van ʼn koherente en normatief gedeelde taal. 31

31 Manderson 2016 LCH 226.

Die karakters het nie hul eie stemme nie, maar is bloot spreekbuise waardeur gevestigde gesag en standpunte geartikuleer word. Daarteenoor gee die roman individuele stemme aan elk van die karakters en/of vertellers en plaas die stemme in diskoers teen(oor) mekaar. Die roman is dus inherent gefragmenteer en meerstemmig. Dit is waarna Bakhtin verwys as "die dialogiese verbeelding" van die roman. Die roman se kapasiteit vir poliglossie is nie slegs te vinde in die wyse waarop die individuele stemme van die verskillende karakters verwesenlik word of selfs in die dialoog tussen hulle nie; die interaksie van verskeie diskursiewe vlakke is intrinsiek tot die genre op 'n unieke wyse:

In addition to the distinctive voice of a character in, say, a novel by Dickens or Dostoevsky, there is the voice of the narrator behind all such voices, and

behind the narrator the voice of the author, and innumerable ways of speaking behind and interlaced with each of these: the voices and languages of the society of the time, the discourses of memory, of social context, of conventional wisdom, of proper and improper speech, and even the voice of the literary tradition itself. 32

32 Manderson 2016 LCH 226.

Bakhtin ontbloot dus 'n deurdringende vorm van dialogisme. Hy beklemtoon tegelykertyd hoe die stemme van die karakters en deelnemers in 'n roman (en die wêreld van die roman) van mekaar verskil en hoe hulle 'n interne onstabiliteit teweegbring wat getransformeer en op gereageer word deur die konteks waarin spraak plaasvind en die gehoor en perspektiewe waarop spraak altyd (reeds) gerig is. Die "dialogiese verbeelding" bied nie slegs 'n wemelende verskeidenheid stemme wat beide veelvuldig en uniek is nie, Bakhtin dring ook daarop aan dat die stemme terselfdertyd getransformeer word deur die kommunikatiewe druk van die kontekste waarin hulle uitgelaat word. 33

33 Manderson 2016 LCH 227.

Die hibriditeit van uitlatings en registers is inderdaad 'n kenmerk van kommunikasie self. Omdat ons uitlatings altyd gerig is tot 'n ander, poog taal altyd om die unieke konseptuele stelsel van die begrypende ontvanger te akkommodeer, toe te eien of te transformeer. 34

34 Manderson 2016 LCH 227. Manderson beklemtoon in hierdie opsig die raakpunte tussen die perspektiewe van Bakhtin en die etikus Emmanuel Levinas.

3.1 Die etiek van die polifoniese roman en die dier se literêre stem

Die etiese potensiaal en implikasies van die meerstemmige of polifoniese roman begin reeds in die voorafgaande bespreking deurskemer. Wanneer ons, in naspeuring van Bakhtin, verstaan dat die essensie van die roman te vinde is in die onvolledigheid van die identifisering met die innerlike lewens van ander, kan ons begin waardeer dat die roman 'n intersubjektiewe ruimte skep waarbinne ons betekenis kan verleen of toeskryf aan ander. Ons "lees" en "skryf" as te ware die Ander wanneer ons haar waarneem vanuit 'n invalshoek buite haar eie bewustheid – sy word dus "herskep deur produktiewe geheue". 35

35 Bakhtin "Author and Hero" 111, eie vertaling.

Aangesien ons almal in der waarheid outeurs is, het ons gevolglik 'n etiese verantwoordelikheid om betekenis en vorm te gee aan die lewens van ander. Sodanige skepping spruit nie voort uit die versmelting van ons bewusthede of perspektiewe nie; vir Bakhtin onthul die roman nie slegs die siel van die Ander nie, dit skep dit:

What the other rightfully negates in himself, I rightfully affirm and preserve in him, and in doing so, I give birth to his soul. 36

36 Bakhtin "Author and Hero" 129.

Narratiewe is dus nie eties omdat ons sien wat die Ander sien nie, maar omdat ons sien wat sy binne die ruimtelike en temporale beperkings van haar bewustheid nie kan sien nie. Die belang van die roman is dus te vinde

in die ontlokking van 'n begeerte om op te tree deur die energie, lewenskragtigheid en interpretatiewe openheid wat dit oordra. 37

37 Manderson 2016 LCH 228-229.

Bakhtin se omgang met dialogisme ondermyn derhalwe 'n eenvoudige teorie van narratiewe of storievertelling as 'n tipe deursigtige venster waardeur ons die innerlike lewens van ander kan sien en waardebelaaide feite oor die wêreld kan aflei. In dié proses word die kompleksiteit en dubbelsinnigheid wat hy in die romantradisie vind getransformeer tot die basis van 'n omvattende etiese teorie: "vir Bakhtin word die roman die uitvoering van etiese verantwoordelikheid vir ander". 38

38 Manderson 2016 LCH 229, eie vertaling.

Ek is fundamenteel gemoeid met die wyse waarop die roman uitvoering van ons etiese verpligtings teenoor diere fasiliteer. Dit is belangrik om eerstens te beklemtoon dat die roman omgang met die stem van die dier op ʼn wyse fasiliteer wat die fundamentele antroposentriese beperkings van die reg ontbloot en omseil. Die onvolledigheid van die identifisering met die Ander wat die roman beklemtoon, het tot gevolg dat die dier (se bestaanswyse) nie hoef te assimileer tot die finaliserende en reduserende vertaling van regskonstruksies (soos regsubjektiwiteit, locus standi, bewysmateriaal, ens.) wat nodig is om deur die reg "gehoor" te word nie. Soos ek reeds geargumenteer het, bly hierdie konstruksies getrou aan hul antroposentriese konstituerende voorveronderstellings en word die onbesproke metafisiese antroposentrisme van tradisionele humanisme, wat sentraal tot die onderdrukking van diere lê, bestendig. Ek vind die primêre etiese potensiaal van die roman vir diere-etiek op hierdie vlak, naamlik die suggestie van 'n ander manier om oor ons verhoudings met ander, sowel as ons benadering tot die reg, te dink.

Diere word al vir duisende jare in geskrewe literatuur verteenwoordig. Net soos in die reg, is hulle egter oorwegend verban na stemlose ruimtes as objekte, eerder as subjekte. Catherine Elick meen dat Engelse kinderliteratuur van die moderne periode (breedweg gedefinieer as 1900-1975) die begin van 'n geleidelike verskuiwing na literêre subjektiwiteit ingelui het. Sy vind in hierdie werke dierekarakters wat gewikkel is in 'n stryd om ware subjekte te word wie se waarde en welsyn nie totaal van mense afhanklik is nie en wie se magsverhoudings met mense meer produktief onstabiel as hiërargies is. 39

39 Elick Talking Animals 1.

Hierdie literêre wêrelde weerspieël volgens Elick die sosiale verskuiwing van dierewelsyn na diereregte wat in die twintigste eeu plaasgevind het. 40

40 Elick Talking Animals 1.

Sy fokus uitsluitlik op letterkunde waarin diere geantropomorfiseer word deur hulle met spraakvermoëns toe te rus en sy gebruik 'n Bakhtiniaanse raamwerk om ondersoek in te stel na die

wyse waarop diere outoriteit verkry deur "hulself" met taal uit te druk en te definieer.

Ek stem saam dat antropomorfisering diere karakters in staat stel om onafhanklike bewustheid uit te druk op wyses wat waardevol is en om uitgebeeld te word as subjekte met die vermoë om menslike hiërargieë te destabiliseer. Ek het egter elders 41

41 De Villiers 2019 Law & Literature.

geargumenteer dat die modale verhoudings binne die dialogiese struktuur van die polifoniese roman diere se stemme ook op 'n ander, meer fundamentele vlak kan akkommodeer. Ek vind die fundamentele ontwrigtende krag wat deernis ontlok juis in diere se eindigheid en beliggaamde kwesbaarheid. Aanduidend van Levinasiaanse etiek, vra Derrida "Hoe kan 'n dier jou in die gesig kyk?" en illustreer dan hoe die vraag nie gerig is op die dier se (on)vermoë om te praat nie, maar eerder op die vraag of ons die blik van die dier kan (h)erken en kan verstaan wat dit beteken om te reageer. 42

42 Derrida The Animal that Therefore I Am 7-8.

Die dier se beliggaamde kwesbaarheid en kapasiteit om te kan ly verskuif ons eie blik na die dier. Die vraag "Kan diere ly?" noodsaak ons om, meer fundamenteel, te vra "Kan hulle nie in staat wees (om te ly) nie?" Derrida vra in hierdie verband:

And what of this inability [impouvoir]? What of the vulnerability felt on the basis of this inability? What is this nonpower at the heart of power? What is its quality or modality? How should one take it into account? ... Being able to suffer is no longer a power; it is a possibility without power, a possibility of the impossible. Mortality resides there, as the most radical means of thinking the finitude we share with animals, the mortality that belongs to the very finitude of life, to the experience of compassion, to the possibility of sharing the possibility of this nonpower, the possibility of this impossibility, the anguish of this vulnerability, and the vulnerability of this anguish. 43

43 Derrida The Animal that Therefore I Am 28.

Donna Harraway 44

44 Harraway When Species Meet 287.

illustreer oortuigend hoe 'n beliggaamde omgang met diere 'n proses van wording daarstel wat alle diere (insluitende menslike diere) saambind in die tipe reaksies en agting wat beide die subjek en die objek verander. In 'n soortgelyke trant beklemtoon Bakhtin ook die relasionele aard van ons bestaan en bedink hy die etiese self as 'n onvasgestelde en onfinaliseerbare "nog-te-wees", met as middelpunt my eie selfbeskikking wat in die toekoms geleë is. 45

45 Bakhtin "Author and Hero" 127.

Ons bewoon en beoog 'n omgewing en dialogiese ruimte wat vêr verby die geskrewe en gesproke woord van die mensdom strek en ons verantwoordbaarheid volg. Soos wat Katerina Clark en Michael Holquist merk:

In Bakhtin, the difference between humans and other forms of life is a form of authorship, since the means by which a specific ratio of self-to-other responsibility is achieved in any given action – a deed being understood as an answer – comes about as the result of efforts by the self to shape a

meaning out of the encounter between them. What the self is answerable to is the social environment; what the self is answerable for is the authorship of its responses. The self creates itself in crafting an architectonic relation between the unique locus of life activity and the constantly changing natural and social environment which surrounds it. This is the meaning of Bakhtin's dictum that the self is an act of grace, a gift to the other. 46

46 Bakhtin "Author and Hero" 129, eie vertaling.

3.2 Letterkunde en die destabilisering van die (outoriteit van die) reg

Die voor die hand liggende vraag wat ons gevolglik konfronteer, lui soos volg: Wat is die wisselwerking tussen die reg en hierdie etiese verantwoordbaarheid vir ons "outeursaksies" wat die Ander "lees en skryf" – veral wanneer daar strydigheid is? Ons moet eerstens daarop let dat daar inherente spanning is tussen die reëlgebaseerde aard van die reg en die polifoniese roman se benadering tot verhoudings as relatief, onberekenbaar en onreduseerbaar (tot formules en beginsels). Dialogisme is in lynregte teenstelling met die "regslogika" wat jukstaposisies in terme van kousaliteit verstaan en benader. 47

47 Manderson 2011 AFLJ 122.

Dialogisme lei ons na 'n logika van afstand, analogie en nie-eksklusiewe opposisie wat die konsepte van substansie en kousaliteit vervang en in relasionaliteit assimileer. In teenstelling met die reg wat poog om oplossings te vind deur reëls te konstrueer en toe te pas, bewaar die roman verskillende verboë waarhede en fasiliteer dit 'n genuanseerde verstaan van relasionele partikulariteit. Die dialogisme wat ons in die romantradisie vind, bewerkstellig derhalwe weerstand tot die regsvereiste vir interpretatiewe en normatiewe finaliteit; dit bewaar die moontlikheid van nuwe en onverwagse betekenisse wat de novo-oorwegings regverdig en finaliserende bevindings of uitsprake bevraagteken. Só moedig ons ervaring van die roman ons aan om ons benadering tot die gemarginaliseerde posisie wat die dier as gevolg van bestendigde regs- en sosiale hiërargieë beklee, te herdink. Sodanige hiërargieë manifesteer immers as gevolg van die antroposentriese voorveronderstellings van regsdiskoers. Hierdie spanning en wegbreek van die voorspelbaarheid van die reg kan lei tot veranderings in die wyse waarop ons oor diere en ook die reg dink.

Maar letterkunde het miskien 'n belangriker, meer fundamentele invloed op die reg. Bakhtin se insigte met betrekking tot die komplekse relatiwiteit van verhoudings verander ons standpunt oor reëls. Vanuit hierdie perspektief dra letterkunde nie abstrakte oordeel oor nie, en kan dit ook nie gereduseer word tot die feite wat dit oor die wêreld reflekteer nie, omdat die dinamiese aard en absolute eiesoortigheid van wesens, en die omstandighede wat deur narratiewe daargestel word, lei tot die omseiling van enige interpretatiewe finaliteit. Deur te let op narratiewe in die reg word ons genoop om reëlfetisjisme te verwerp omdat ons moet erken dat ʼn

voorafbepaalde reël nie toepassing op 'n spesifieke tyd en onder spesifieke omstandighede kan dikteer nie. 48

48 Manderson 2016 LCH 233-234.

Vir Bakhtin funksioneer die strukturele onstabiliteit wat gegenereer word deur die roman se "komplekse stratifikasie van taal in genre, register, sosiolek, dialek, en die wedersydse interanimasie van hierdie vorme", 49

49 White Carnival, Hysteria and Writing 136, eie vertaling.

dus meer fundamenteel as kritiek op outoriteit. Die historiese trajek van die roman stuur nie slegs af op 'n problematisering van pontifikale outoriteit nie, maar trek ook die roman se eie outoriteit (en inderdaad begripsbeperkings) in twyfel en genereer sodoende 'n ironiese selfkritiek van outoriteit. 50

50 Manderson 2016 LCH 234.

Alhoewel die reg verskeie en veelvuldige bronne, perspektiewe, beginsels en stemme wat strek oor verskeie velde inkorporeer, smelt hulle uiteindelik saam in 'n monologiese stem van outoriteit. In teenstelling hiermee is die polifoniese roman dialogies presies omdat die struktuur voortdurende dinamiese en oop omgang met afsonderlike kontra-stemme binne en buite die roman kan akkommodeer. Omdat tale en diskoerse nie sosiaal gelyk is nie, behels die "komplekse stratifikasies dialogiese interaksie waarin die dominerende taal poog om beheer uit te brei en die ondergeskikte tale poog om beheer te vermy, onderhandel of ondermyn". 51

51 White Carnival, Hysteria and Writing 137, eie vertaling.

Sodoende word strukturele onstabiliteit en onvolledigheid gegenereer. My argument is dat hierdie inherente onstabiliteit en onbepaaldheid belangrike etiese waarde beliggaam vir diegene wat hulself aan die onderdrukte kant van 'n ongelyke magsbalans bevind – juis omdat dit die vlugtige aard en vatbaarheid vir onderbreking en ommekeer ontbloot. Die dier se regstatus as objek (of in uitsonderlike gevalle geantropomorfiseerde subjek) kan derhalwe deur die romanervaring gedestabiliseer word as gevolg van die inherente weerstand wat dit tot interpretatiewe finaliteit en die outoriteit van 'n eenstemmige interpretasie bied. Die verskeidenheid diskoerse wat die Holocaust-metafoor konstitueer, bevraagteken en destabiliseer effektiewelik die objekstatus van diere en fasiliteer 'n benadering tot interseksionaliteit wat die grense van intramenslike ongeregtigheid oorskry.

4 Dierelyding en die Holocaust-metafoor

Die gelykstelling van ons mishandeling van diere en die Derde Ryk se Jodeslagting onder die diktatorskap van Adolf Hitler tydens die Tweede Wêreldoorlog is nie ongekend of 'n nuwigheid nie. Die Amerikaanse outeur en historikus Charles Patterson het in 2002 'n gedeeltelik retoriese analise en gedeeltelik antropologiese studie getiteld Eternal Treblinka: Our Treatment of Animals and the Holocaust 52

52 Patterson Eternal Treblinka.

gepubliseer waarin hy 'n homologiese uiteensetting gee van die wyses waarop diskoers wat die

gebruik van diere regverdig, ooreenstem met die regverdigende argumente van eugenetici wat slawerny ondersteun, die Anglo-Amerikaanse grensmanne wat inheemse Amerikaanse inwoners gejag het en die Nazi's in hul uitwissing van die Europese Jodedom. Patterson se hipotese is dat 'n nougesette naspeuring van die diskoers van die diere-industrie onlosmaaklike verbande met die tale van slawerny, etniese hegemonie en Nazisme openbaar. Insgelyks het People for the Ethical Treatment of Animals (PETA), die wêreld se grootste diereregte-organisasie, tussen 2003 en 2005 'n wêreldwye reklameveldtog, getiteld The Holocaust on your Plate, geloods. Dié uitstalling, wat in meer as 70 Amerikaanse stede en nagenoeg 20 lande vertoon is, het bestaan uit verskeie eerbiedwekkende panele, elk 6 voet hoog en 10 voet breed, wat beelde van Jode in Nazi-konsentrasiekampe gejukstaponeer het met beelde van dierelyding in moderne grootboerderye. So is kykers byvoorbeeld gekonfronteer met die foto van 'n naakte, uitgeteerde man langs 'n foto van 'n uitgehongerde koei. Die lang, maer bene en ribbebene wat uitsteek het angswekkende ooreenkomste op die voorgrond geplaas en is vergesel deur 'n teks wat soos volg gelees het: "Gedurende die sewe jare tussen 1938 en 1945 het 12 miljoen mense in die Holocaust omgekom. In die V.S.A. alleen word dieselfde getal diere ELKE 4 URE doodgemaak om as voedsel te dien." 53

53 Kim 2011 NPS 311, eie vertaling.

Benewens hierdie twee prominente voorbeelde van die analogisering van diere-uitbuiting en die Holocaust, is daar natuurlik ook ander voorbeelde in beide die populêre media en vakkundige werke. My fokus in hierdie artikel sentreer egter rondom die gebruik van die Holocaust-metafoor in letterkunde, spesifiek die polifoniese roman, en die implikasies en moontlikhede wat dit vir diere-etiek en die reg as fasiliteerder van diere-onderdrukking inhou. JM Coetzee se novelle The Lives of Animals tree op 'n treffende wyse in gesprek met die genuanseerde Holocaust-metafoor, beklemtoon die problematiek rondom 'n deurdringende vorm van antroposentrisme en betrek die stem van die dier op 'n wyse wat onder meer haar beliggaamde kwesbaarheid op die voorgrond plaas.

4.1 JM Coetzee se The Lives of Animals as polifoniese roman

In November 1996 word JM Coetzee deur Bennington College in Vermont genooi om die tweejaarlikse Stowe-toekenning te ontvang en ook die Ben Belitt-lesing ter ere van die Amerikaanse digter en vertaler van Neruda en Lorca aan te bied. 54

54 Kannemeyer JM Coetzee 511.

In sy aanvaardingstoespraak het Coetzee gepraat oor die vraag "Wat is realisme?" en vir die eerste keer die karakter Elizabeth Costello, Coetzee se alter ego, bekendgestel. Coetzee het die daaropvolgende jaar 'n uitnodiging van Princeton Universiteit aanvaar om die Tanner-lesings aan te bied. In stede daarvan om 'n konvensionele lesing

te gee, het hy 'n kort novelle voorgelees wat sentreer rondom die fiktiewe wêreldberoemde Australiese skrywer Elizabeth Costello wat uitgenooi is om die Gates-lesing te lewer by 'n prominente Amerikaanse universiteit, Appleton College, waar haar seun John fisika en sterrekunde doseer. Dié novelle sou later gepubliseer word as The Lives of Animals. 55

55 Coetzee The Lives of Animals.

Costello is bekend vir haar feministiese baanbrekersfiksie, spesifiek The House on Eccles Street, 'n roman oor Marion Bloom, die vrou van Leopold Bloom in James Joyce se Ulysses. 56

56 Kannemeyer JM Coetzee 511.

In stede daarvan om oor letterkunde en haar werk te praat, wy Costello haar twee lesings, The Philosophers and the Animals en The Poets and the Animals, aan diere-etiek en die morele imperatief vir 'n vegetariese leefstyl.

Coetzee gebruik 'n komplekse literêre ontwerp wat in die nawoord tot die novelle deur Marjorie Garber beskryf word as 'n metafiksieweergawe van die akademiese novelle wat strydige idees (rondom diereregte, bewustheid, die dood, ens.) verskans teen eise van outeurskap en outoriteit en in die proses die novelle met patos vul. 57

57 Garber "Reflections" 79.

Die meerstemmige en dialogiese aard van die novelle, wat 'n Bakhtiniaanse interpretasie ontlok, word verder beklemtoon wanneer sy argumenteer:

[Warring ideas] are put in play by characters who – precisely because they are "academics" – can be relied upon to be unreliable: both too vehement and too wishy-washy, expert in debaters' points and classroom hyperbole. "Sincerity," assuming it to be a value, cannot be assumed in this contest of faculties. We don't know whose voice to believe. 58

58 Bakhtin "Author and Hero" 129, eie vertaling.

Bakhtin argumenteer dat die literêre teks geleë is in 'n groter sosiohistoriese konteks wat verhoed dat 'n karakter se stem vooraf beslis en omsluit word deur die taal van die roman. Bakhtin verwerp die mite van 'n unitêre taal deur die afstand tussen taal en realiteit te illustreer. Hy beklemtoon dat die literêre woord nie slegs 'n direkte, geobjektiveerde betekenis het nie, maar onvermydelik ook gerig is op 'n ander se woord. 59

59 Bakhtin "From the Prehistory of Novelistic Discourse" 61.

Bakhtin bedink dus die literêre woord as inklusief van die Ander se reaksie en plaas 'n spesifieke tipe bewustheid, wat vry is van "die tirannie van sy eie taal en sy eie mite van taal", op die voorgrond. 60

60 Bakhtin "From the Prehistory of Novelistic Discourse" 61, eie vertaling.

Soos reeds gestel, fokus ek op die dier se "woord" en "reaksie" wat in die teks van die novelle vergestalt word.

The Lives of Animals bestaan uit twee dele, elk met verskeie tonele. Die eerste gedeelte, The Philosophers and the Animals, bestaan uit vier tonele: Costello wat deur John by die lughawe ontvang word en by hom tuisgaan; Costello se eerste lesing; die vraag-en-antwoord-sessie; en die ete by die

fakulteitsklub. Die tweede gedeelte, The Poets and the Animals, bestaan uit sewe tonele: John en sy vrou Norma se gesprek ná afloop van die eerste lesing en ete; John wat Abraham Stern se brief aan Costello oorhandig en dan lees; die vraag-en-antwoord-sessie ná Costello se tweede lesing; John en Costello se gesprek op pad na haar laaste afspraak by die universiteit; Costello se debat met Thomas O'Hearne; John en Norma se gesprek ná afloop van die debat; en John wat Costello die volgende oggend by die lughawe gaan aflaai.

Die struktuur en styl wat Coetzee gebruik, bevestig die vermoë van letterkunde om as medium vir die bespreking van etiese kwessies te dien, wat inderdaad ook 'n kerntema van die novelle self is. Alhoewel groot gedeeltes van die narratief toegewy is aan Costello se lesings, 'n modus wat tipies monologies is, betrek Costello deurgaans 'n polifonie van onafhanklike stemme. Die gebeure word oorgedra in die derdepersoon deur John se bewustheid, wat deurgaans 'n merkwaardig onopvallende teenwoordigheid handhaaf. John se vertelling word gedialogiseer deur die observasie en antisipasie van teenstemme en die moeitelose oorgang van vertelling na die onafhanklike stemme van ander karakters. Costello het nie net interaksie met die onafhanklike stemme in die novelle en haar eie verlede, hede en toekoms nie, maar ook met die literêre, historiese en filosofiese diskoerse wat verder as die teks strek. Coetzee maak onder meer gebruik van akademiese voetnote of verwysings en betrek sodoende die stemme van geleerdes en akademici soos Philippe Lacoue-Labarthe, Martin Heidegger, Peter Singer, Franz Kafka, Thomas Nagel, en selfs sy eie werke. Die wyse waarop Coetzee die genuanseerde diskoerse rondom die Holocaust-metafoor inkorporeer, is die fokus van my bespreking.

Kort nadat Costello tydens haar eerste lesing deur 'n lid van die Engelse departement van Appleton College bekendgestel is en inleidende opmerkings gemaak het, verskuif sy die fokus van haar lesing na die Derde Ryk se Jodeslagting wanneer sy sê:

Between 1942 and 1945 several million people were put to death in the concentration camps of the Third Reich: at Treblinka alone more than a million and a half, perhaps as many as three million. These are numbers that numb the mind. We have only one death of our own; we can comprehend the deaths of others only one at a time. In the abstract we may be able to count to a million, but we cannot count to a million deaths.

The people who lived in the countryside around Treblinka – Poles, for the most part – said that they did not know what was going on in the camp; said that, while in a general way they might have guessed what was going on, they did not know for sure; said that, while in a sense they might have known, in another sense they did not know, could not afford to know, for their own sake. 61

61 Coetzee The Lives of Animals 19.

Twee belangrike kwessies verdien aandag. Eerstens is die konteks waarin die uitlatings gemaak word belangrik ten einde die komplekse funksionering van die Holocaust-metafoor in die novelle te verstaan. Coetzee laat die gebeure doelbewus in 'n spesifieke konteks en tydgleuf afspeel: Amerika in die laat twintigste eeu – 'n tyd waarin verwysings na die Holocaust spesifieke betekenis vir Amerikaners aangeneem het. 'n Voetnoot in die teks verwys die leser na Daniel Holdhagen se bekende akademiese boek Hitler's Willing Executioners, wat in 1996 publiseer is. Hierdie verwysing kontekstualiseer die gebeure verder. Tweedens is dit betekenisvol dat Costello nie die woord "Holocaust" gebruik wanneer sy die metafoor aanvanklik bekendstel nie en besluit om na die Treblinka-konsentrasiekamp te verwys eerder as die meer bekende Auschwitz, wat sinoniem met die Holocaust is. Craig Smith wys daarop dat Auschwitz verder sinoniem is met generiese boosheid en as sodanig 'n bekende sinekdogiese en metonimiese plaasvervanger vir die Holocaust is. 62

62 Smith 2011 Safundi 55. Smith verduidelik dat Auschwitz 'n sinekdogiese referent is in die sin dat dit een spesifieke ligging, die ligging van die Holocaust aandui. Dit is verder ook 'n metonimiese referent omdat dit 'n spesifieke vorm van Nazi-geweld oproep.

Die feit dat Costello die Holocaust oproep sonder om dit direk te noem of na Auschwitz te verwys, spreek tot Coetzee se komplekse benadering in The Lives of Animals. Coetzee gebruik die Holocaust-metafoor om enersyds etiese kommentaar te lewer op ons misbruik van diere en om andersyds kommentaar te lewer op die Holocaust self – spesifiek die wyse waarop die historiese gebeurtenis in die hede fungeer as 'n vaste referent wat historiese inhoud betref en ook ten opsigte van morele en etiese betekenis. Coetzee se omgang met die Holocaust destabiliseer hierdie vastigheid ten bate van 'n alternatiewe diere-etiek wat die idee van hiërargiese lyding uitdaag.

Die Holocaust het ongetwyfeld 'n globale referent geword wat 'n sentrale posisie in die groter globale historiese bewussyn inneem. Baie min ander historiese gebeure, indien enige, word gekenmerk deur 'n gelyktydige wye ooreenstemming wat betref die algemene vorm van gebeure en hul gepaste morele evaluasie aan die een kant en 'n duiselingwekkende reeks kompeterende interpretasies, eise en teeneise gebaseer op die vasgestelde feite aan die ander kant. 63

63 Smith 2011 Safundi 50.

Die kwessie van die Holocaust se historiese uniekheid het veral baie akademiese aandag geniet, juis omdat dit morele, etiese en politiese oordeel betrek. Holocaust-analogieë betrek gevolglik dikwels implisiet of eksplisiet die gebruik van evaluerende taal, soos wanneer Costello verder sê:

Let me say it openly: we are surrounded by an enterprise of degradation, cruelty, and killing which rivals anything that the Third Reich was capable of, indeed dwarfs it, in that ours is an enterprise without end, self-generating,

bringing rabbits, rats, poultry, livestock ceaselessly into the world for the purpose of killing them. 64

64 Coetzee The Lives of Animals 21, eie beklemtoning.

Die debat rondom die Holocaust se historiese uniekheid is dus implisiet in Costello se vergelyking en in 'n sekere sin van kritieke belang. Costello erken vroeg in haar lesing reeds die gevare wat die gelykstelling van die Holocaust aan die sistematiese moord op diere inhou wanneer sy sê dat sy bewus is dat diskoers van hierdie aard "mense polariseer". 65

65 Coetzee The Lives of Animals 22.

Costello is dus nie slegs 'n karakter wat die Holocaust vergelykend mobiliseer nie, maar sy lewer ook 'n soort metakommentaar op Holocaust-vergelykings. 66

66 Smith 2011 Safundi 51.

Deur 'n karakter uit te beeld wat wetend kies om diskoers te inisieer waaraan haar gehoor geen aandeel wil hê nie, ondersoek Coetzee juis dít wat Holocaust-vergelykings so polariserend maak. Abraham Stern, 'n bekende digter en professor aan Appleton College, verleen 'n onafhanklike stem aan een van hierdie gepolariseerde posisies wanneer hy verduidelik waarom hy uit protes homself onttrek van die ete wat ná afloop van Costello se eerste lesing in haar eer gehou word. Hy skryf 'n brief aan Costello waarin hy sy posisie soos volg artikuleer:

Dear Mrs. Costello,

Excuse me for not attending last night's dinner. I have read your books and know you are a serious person, so I do you the credit of taking what you said in your lecture seriously.

At the kernel of your lecture, it seemed to me, was the question of breaking bread. If we refuse to break bread with the executioners of Auschwitz, can we continue to break bread with the slaughterers of animals?

You took over for your own purposes the familiar comparison between the murdered Jews of Europe and slaughtered cattle. The Jews died like cattle, therefore cattle die like Jews, you say. That is a trick with words which I will not accept. You misunderstand the nature of likenesses; I would even say misunderstand wilfully, to the point of blasphemy. Man is made in the likeness of God but God does not have the likeness of man. If Jews were treated like cattle, it does not follow that cattle are treated like Jews. The inversion insults the memory of the dead. It also trades on the horrors of the camps in a cheap way.

Forgive me if I am forthright. You said you were old enough not to have time to waste on niceties, and I am an old man too.

Yours sincerely,

Abraham Stern. 67

67 Coetzee The Lives of Animals 49-50.

Stern se brief het veelvuldige funksies. Dit bied eerstens op 'n fundamentele vlak 'n onafhanklike teenstem teen die protagonis, soos wat tipies in

polifoniese novelles gebeur. Ek het Costello elders 68

68 De Villiers 2019 Law & Literature.

voorgehou as 'n Sokratiese figuur: 'n vroedvrou wat hulp verleen met die geboorte van nuwe idees in die soeke na 'n waarheid wat dialogies, relatief, korrelatief en onvasgestel is. Sokratiese dialoog betrek 'n verskeidenheid stemme deur middel van twee basiese stilistiese tegnieke: sinkrisis konfronteer verskeie diskoerse deur verskillende standpunte oor 'n spesifieke kwessie te jukstaponeer terwyl anakrisis 'n middel is waardeur die opinie van 'n medespreker ontlok word. Costello se gebruik van die Holocaust-metafoor verteenwoordig 'n effektiewe vorm van Sokratiese dialoog met Costello wat slegs een onafhanklike deelnemer aan die diskoers bly. Tweedens bied Stern se brief 'n vorm van interne kritiek teen Costello se vergelyking en antisipeer dit die tipe reaksie wat Coetzee op sy metafoor kan verwag – dit bied dus 'n in-teks-surrogaat vir lesers wat dienooreenkomstig geaffronteer voel. 69

69 Smith 2011 Safundi 51.

Meer belangrik vir die doeleindes van hierdie artikel, laat dit Coetzee toe om te demonstreer wat 'n onmiddellike verwerping van die metafoor vir diere beteken, naamlik 'n vyandige antroposentriese reaksie op diskoers wat gerig is op die verbetering van hul lot. Dit is nie duidelik of Stern se posisie gefundeer is in Holocaust-uniekheid nie, en ook nie of hy alle vergelykings of slegs Costello s'n verwerp nie. Sy verwerping word geartikuleer op 'n linguistiese vlak in die vorm van 'n ondersoek na die verhouding tussen die letterlike en figuurlike komponente in 'n Holocaust-vergelyking. Stern se kritiek kom daarop neer dat Costello eenvoudig 'n inversie van die behoorlike orde voorgehou het deur die Holocaust die figuurlike komponent (figurative vehicle) in haar vergelyking te maak, terwyl dit regmatig as letterlike komponent (tenor) moet funksioneer. 70

70 Smith 2011 Safundi 51.

Stern weier dus om Costello te volg wanneer sy die verband tussen die volksmoord op die Europese Jode en die geïndustrialiseerde slagting van diere voorhou as 'n metaforiese verband wat toelaat dat die letterlike en figuurlike komponente in 'n refleksiewe en wedersyds konstitutiewe verhouding tot mekaar staan. Deur te verwys na Costello se "lasterlike misverstaan van gelykenis", beperk Stern Costello se gelykstelling tot 'n eenvoudige vergelyking en verklap hy dat hy die benarde lot van diere slegs as 'n figuurlike komponent in 'n nierefleksiewe, eenrigting vergelyking beskou. Coetzee suggereer uiteindelik dat dit Stern is wat opsetlik die aard van Costello se gelykstelling misverstaan wanneer hy dit as 'n vergelyking behandel ten spyte van die feit dat Costello nooit gesê het dat die geïndustrialiseerde produksie van diere se dood soos die Holocaust is nie. Stern se onwilligheid om te oorweeg dat Costello metafories praat, is verwarrend gegewe die feit dat hy, volgens Costello se seun, 'n

gerespekteerde digter is. 71

71 Coetzee The Lives of Animals 49.

Die probleemstelling wat derhalwe na vore kom, sentreer rondom die oorsprong van die digter se opsetlike (mis)verstaan. 72

72 Smith 2011 Safundi 52.

Die narratiewe konteks van die novelle suggereer 'n antwoord op die probleemstelling. Die gebeure speel af in 'n Amerikaanse konteks wat die werklike milieu van Coetzee se lesing van The Lives of Animals weerspieël en sodoende dubbele klem plaas op die sentraliteit van die Holocaust in 'n gelokaliseerde (in hierdie geval Amerikaanse) bewustheid, juis sodat sodanig gelokaliseerde perspektief ontwrig kan word. Volgens Smith 73

73 Smith 2011 Safundi 52.

het Stern se posisie waarskynlik net soveel, indien nie meer nie, te doen met sy Amerikaansheid as met sy (waarskynlike) Joodsheid. Stern se siening van gelykenis reflekteer 'n gedeelde, toenemend geglobaliseerde, verstaan van die Holocaust wat Coetzee graag wil ontwrig. Costello se metafoor beklemtoon die lot van diere en demonstreer gelyktydig hoe so 'n vergelyking moontlik die betekenis van die Holocaust self kan herdefinieer. Coetzee destabiliseer die epistemologiese, en gevolglik etiese, gemak waarmee die Holocaust benader word. 74

74 Smith 2011 Safundi 55.

Die perspektief wat die Holocaust beskou as gevrywaar van gelykstellings verhoed kritiese omgang met ander etiese dilemmas wat skynbaar nie vergelyk kan word met die vlak van onreg wat die Holocaust kenmerk nie. Coetzee verwerp perspektiewe wat gebaseer is in Holocaust-onvergelykbaarheid en Duitse uitsonderlikheid. 75

75 Smith 2011 Safundi 58.

Uiteindelik ontbloot The Lives of Animals die antroposentriese hiërargie van lyding wat die verwerping van die Holocaust metafoor vergesel. Coetzee suggereer dat die Holocaust waardevolle leiding kan verskaf met betrekking tot die verpligtings waarmee kontemporêre etiese kwessies ons konfronteer.

Twee belangrike implikasies spruit hieruit voort. Eerstens verskuif die Holocaust-metafoor die klem vir dierebevrydingsdiskoers van spesisisme na antroposentrisme. Soos wat die metafoor en gepaardgaande reaksies illustreer, is die benarde posisie van diere nie eenvoudig die gevolg van irrasionele beredenering wat nie die kapasiteit vir lyding en 'n voortspruitende etiese belang om nie te ly in diere (h)erken nie. Die onderdrukte status van diere spruit voort uit komplekse skemata van mag en dominansie wat intrinsiek tot ons historisiteit en sosialiteit verbind is. Die metafoor illustreer voorts dat van die mees grusame vorme van historiese geweld nie na aanleiding van lidmaatskap tot 'n spesifieke spesie gepleeg is nie, maar eerder die gevolg is van verhoudings en sisteme van mag in diens van diegene wat deur die dominante kultuur geag is om volkome en behoorlik mens te wees. Jode, sigeuners, gay mense, en mense met fisieke

gebreke is nie deur die Derde Ryk geag as volkome en behoorlike mense nie, en onderdrukkende dominansie is dienooreenkomstig uitgeoefen. Hierdie onderdrukking spreek tot die bestaan van 'n hiërargie waarin party wesens aan die hand van sekere kenmerke of vereistes met 'n laer etiese status beklee word. Dit is miskien belangrik om te beklemtoon dat variasies van genoemde geweld tans steeds voortduur.

Nou verbind tot hierdie klemverskuiwing, laat die Holocaust metafoor ons tweedens toe om interseksionaliteit te verstaan en te benader op wyses wat die grense van intramenslike ongeregtigheid oorskry omdat dit beklemtoon dat daar wesenlike verbande is tussen die geweld wat gerig word op beide diere en mense. Die verbande tussen die onderdrukking van Jode en diere, soos deur Coetzee ontbloot, het nie ten doel om 'n essensiële band tussen Joodsheid en dierlikheid aan te dui nie. Die oorvleuelende aard van die onderdrukking van Jode en diere is 'n historiese observasie oor die aard van onderdrukking en uitbuiting in kontemporêre antroposentriese samelewings wat 'n spesifieke ideale vorm van menswees as die grondsimboliek van etiese oorweging bestendig. Die metafoor ontbloot 'n sekere logika van onderdrukking wat diere subhumaniseer en Jode (en ander gemarginaliseerde groepe) dehumaniseer op wyses wat relatief verskillend, dog onderling, op belangrike wyses verbind is. The Lives of Animals tree sodoende in gesprek met 'n geleidelik groeiende groep teoretici wat die interseksionele benadering verbreed deur te demonstreer hoe mag en geweld sirkuleer en verbind deur en tussen menslike en niemenslike registers. Die kritieke waarde van hierdie benadering vir dierebevrydingsdiskoers is dat daar 'n ruimte geskep word waarbinne 'n soort interseksionele dierepolitiek gekonseptualiseer en uiteindelik geïmplementeer kan word.

5 Slotsom

Die reg speel tans 'n problematiese rol as fasiliteerder van diere-onderdrukking. Pogings om die reg ten bate van diere te gebruik en te transformeer, ontbloot die fundamentele antroposentriese oriëntasie van die reg: ten einde deur die reg erken en aangehoor te word, moet die dier (ge)assimileer (word) tot 'n standaard van menswees wat die grondsimboliek van regsubjektiwiteit vorm. Ek het in hierdie artikel die reg en die diskoers van (diere)regte as antroposentriese terreine van onderdrukking geïdentifiseer en dienooreenkomstig geargumenteer ten gunste van 'n etiese benadering wat antroposentrisme, oftewel "die stel verhoudings en sisteme van mag in diens van diegene wat deur die dominante kultuur geag word volkome en behoorlik mens te wees" 76

76 Calarco Thinking Through Animals 25, eie vertaling.

as kritiese teiken vir diere-teoretici en -etici identifiseer. Deur 'n Bakhtiniaanse

raamwerk te benut om die ontwrigtende vermoë van letterkunde met die reg te kontrasteer, het ek die protagonis in JM Coetzee se novelle The Lives of Animals se gebruik van die Holocaust-metafoor geanaliseer ten einde die belang daarvan vir dierebevrydingsdiskoers te ondersoek. Ek het geïllustreer hoe letterkunde die (outoriteit van die) reg kan ondermyn en destabiliseer, terwyl dit tegelykertyd omgang met die stem(loosheid) van diere op 'n wyse fasiliteer wat die fundamentele antroposentriese beperkings van die reg ontbloot en omseil. Ek het voorts getoon hoe die wyse waarop Coetzee die Holocaust-metafoor gebruik diere se eindigheid en beliggaamde kwesbaarheid as ontwrigtende krag wat deernis ontlok beklemtoon en daardeur nie slegs die kritieke belang van antroposentrisme vir diere-etiek op die voorgrond plaas nie, maar ons ook toelaat om interseksionaliteit te verstaan en te benader op wyses wat die grense van intramenslike ongeregtigheid oorskry omdat dit beklemtoon dat daar wesenlike verbande is tussen die geweld wat gerig word op beide diere en mense.

Bibliografie

Literatuur

Bakhtin "Author and Hero"

Bakhtin M "Author and Hero in Aesthetic Activity" in Holquist M and Liapunov V (reds) (vert Liapunov V) Art and Answerability: Early Philosophical Essays (University of Texas Press Austin 1990) 4-256

Bakhtin "Epic and Novel"

Bakhtin M "Epic and Novel" in Holquist M (red) The Dialogic Imagination: Four Essays (University of Texas Press Austin 1981) 3-40

Bakhtin "From the Prehistory of Novelistic Discourse"

Bakhtin M "From the Prehistory of Novelistic Discourse" in Holquist M (red) The Dialogic Imagination: Four Essays (University of Texas Press Austin 1981) 41-83

Beauchamp "Rights Theory and Animal Rights"

Beauchamp T "Rights Theory and Animal Rights" in Beauchamp T en Frey G (reds) The Oxford Handbook of Animal Ethics (Oxford University Press Oxford 2011) 198-227

Calarco 2004 Cont Philos Rev

Calarco M "Deconstruction is not Vegetarianism: Humanism, Subjectivity, and Animal Ethics" 2004 Cont Philos Rev 175-201

Calarco Thinking Through Animals

Calarco M Thinking Through Animals: Identity, Difference, Indistinction (Stanford University Press Stanford 2015)

Coetzee The Lives of Animals

Coetzee JM The Lives of Animals (red Gutman A) (Princeton University Press Princeton 1999)

Derrida Positions

Derrida J Positions (vert Bass A) (University of Chicago Press Chicago 1981)

Derrida The Animal that Therefore I Am

Derrida J The Animal that Therefore I Am (vert Wills D) (red Mallet M) (Fordham University Press New York 2009)

Derrida en Roudinesco For What Tomorrow

Derrida J en Roudinesco E For What Tomorrow… A Dialogue (Stanford University Press Stanford 2004)

De Villiers 2012 SAPL

De Villiers J-H "Examining the Similarity Principle and Language of (Animal) Rights as a Foundation for Animal Liberation" 2012 SAPL 40-53

De Villiers 2015 SAPL

De Villiers J-H "Animal Rights Theory, Animal Welfarism and the 'New Welfarist' Amalgamation: A Critical Perspective" 2015 SAPL 406-433

De Villiers 2018 PELJ

De Villiers J-H "Metaphysical Anthropocentrism, Limitrophy, and Responsibility: An Explication of the Subject of Animal Rights" 2018 PELJ 1-29

De Villiers 2019 Law & Literature

De Villiers J-H "Prolegomenon on the Role of the Polyphonic Novel for (Animal) Law: JM Coetzee's The Lives of Animals, the Voice of Refusal, and the Subversive Performativity of the Novel" 2019 Law & Literature 443-468

De Villiers Anthropomorphic Hegemony of Subjectivity

De Villiers J-H The Anthropomorphic Hegemony of Subjectivity: Critical Reflections on Law and the Question of the Animal (PhD-proefskrif Universiteit van Leiden 2019)

Douzinas The End of Human Rights

Douzinas C The End of Human Rights: Critical Legal Thought at the Turn of the Century (Hart Oxford 2000)

Elick Talking Animals

Elick C Talking Animals in Children's Fiction: A Critical Study (McFarland & Company Jefferson 2015)

Garber "Reflections"

Garber M "Reflections" in Coetzee JM The Lives of Animals (red Gutman A) (Princeton University Press Princeton 1999) 73-84

Harraway When Species Meet

Harraway D When Species Meet (University of Minnesota Press Minneapolis 2008)

Heidegger "Plato's Doctrine of Truth"

Heidegger M "Plato's Doctrine of Truth" (vert Sheenan T) in McNeill W (red) Pathmarks (Cambridge University Press Cambridge 1998) 155-182

Kannemeyer JM Coetzee

Kannemeyer JC JM Coetzee: A Life in Writing (vert M Heyns) (Jonathan Ball Johannesburg 2012)

Kim 2011 NPS

Kim CJ "Moral Extensionism or Racist Exploitation? The Use of Holocaust and Slavery Analogies in the Animal Liberation Movement" 2011 NPS 311-333

Manderson 2011 AFLJ

Manderson D "Modernism and the Critique of Law and Literature" 2011 The AFLJ 107-125

Manderson 2016 LCH

Manderson D "Mikhail Bakhtin and the Field of Law and Literature" 2016 LCH 221-242

Nussbaum "The Capabilities Approach"

Nussbaum M "The Capabilities Approach and Animal Entitlements" in Beauchamp T and Frey G (reds) The Oxford Handbook of Animal Ethics (Oxford University Press Oxford 2011) 228-251

Patterson Eternal Treblinka

Patterson C Eternal Treblinka: Our Treatment of Animals and the Holocaust (Lantern New York 2002)

Singer Animal Liberation

Singer P Animal Liberation 4de uitg (Harper Collins New York 2009)

Smith 2011 Safundi

Smith C "Blasphemous Likenesses: JM Coetzee's The Lives of Animals, America, and the Holocaust" 2011 Safundi 47-68

Viljoen 1993 JLS

Viljoen L "Die Roman as Polifonie: Diskursiewe Verskeidenheid in Lettie Viljoen se Belemmering" 1993 JLS 183-195

White Carnival, Hysteria and Writing

White A Carnival, Hysteria and Writing: Collected Essays and an Autobiography (Oxford University Press Oxford 1994)

Lys van Afkortings

AFLJ

Australian Feminist Law Journal

Cont Philos Rev

Continental Philosophy Review

JLS

Journal of Literary Studies

LCH

Law, Culture and the Humanities

NPS

New Political Science

PELJ

Potchefstroom Electronic Law Journal

SAPL

Southern African Public Law